Dr Ruaan Stander, paediatrician
  • Home
  • Dashboard
  • Emergency
  • Virtual consultations via Medici

Koorskonvulsies : wat jy moet weet

6/23/2020

 
​Dit is nie vreemd nie; as pediaters sien ons dit baie gereeld; 2-4% van kinders onder die ouderdom van 5 jaar kry koorskonvulsies; die piektyd vir aankoms is tussen ouderdom 12 en 18 maande. Daar is 2 tipes : eenvoudige koorskonvulsies en komplekse koorskonvulsies. Eenvoudige koorskonvulsies is van korte duur (<10min), betrek die hele liggaam, vind net een keer plaas tydens die koorssiekte-episode en die herstel na afloop van die konvulsie is spoedig. Komplekse koorskonvulsies neem lank om te stop (>15min) en/of betrek net een deel van die liggaam en/of vind herhalend plaas tydens die koorssiekte-episode. Hoekom kry kinders dit? Hierdie kinders het 'n geneties-bepaalde temperatuur-konvulsie-drempel wat 'n neiging het tot spontane elektriese ontlading in die brein weens hoë koors. Dit vind tipies plaas saam met 'n virale boonste lugweg-infeksie - en veral weens menslike herpes-virus 6 (roseola). Het jy geweet? Die meeste kinders met eenvoudige koorskonvulsies hoef nie in die hospitaal toegelaat te word nie, veral as hulle bekend is om eenvoudige koorskonvulsies te kry. Die meeste kinders hoef ook nie 'n lumbale punksie (om te toets vir breinvliesontsteking) te ondergaan nie. Is koorskonvulsies skadelik? Nee. Dit veroorsaak nie breinskade nie en beïnvloed ook nie die kognitiewe vermoëns (intellek) of gedrag van kinders nie. Kan dit weer gebeur? Ja, tot 33% van kinders met koorskonvulsies kry dit weer in die toekoms. Risikofaktore vir herhalende koorskonvulsies sluit in : ouderdom onder 12 maande ten tyde van die eerste koorskonvulsie, 'n laer koors by hospitaal-aankoms (na 'n koorskonvulsie by die huis), 'n kort tydperk tussen aankoms van die koors en die aankoms van die konvulsie, 'n familie-agtergrond van koorskonvulsies of epilepsie en gereelde koorssiektes. As jou kind vir 2 jaar nie weer 'n koorskonvulsie gehad het nie, is dit onwaarskynlik dat hy of sy dit weer sal beleef. Beteken dit my kind gaan in die toekoms epilepsie (konvulsies sonder koors) kry? Onwaarskynlik. Alhoewel kinders met koorskonvulsies 'n hoër risiko het in vergelyking met kinders wat nie koorskonvulsies kry nie, is die kanse steeds skraal : slegs 1-2% van kinders met eenvoudige koorskonvulsies (die mees algemene tipe) gaan aan om epilepsie te ontwikkel. Kinders met die volgende risikofaktore het 'n groter (5-10%) kans om latere epilepsie te ontwikkel : ouderdom ouer as 3 jaar ten tyde van die eerste koorskonvulsie, komplekse koorskonvulsies, veelvuldige koorskonvulsies-herhalings, koorskonvulsies in 'n kind met neuro-ontwikkelings-agterstande en 'n familie-agtergrond van epilepsie. Moet daar verdere toetse gedoen word? Gewoonlik is dit nie nodig met eenvoudige koorskonvulsies nie. Kinders met komplekse koorskonvulsies word op 'n individuele basis beoordeel vir die doen van, onder andere, 'n breingolftoets (EEG) en MR-skandering van die brein. Wat kan ek by die huis doen? Draai jou kind op sy of haar sy en bel die ambulans; moenie iets in die mond sit nie. Vir kinders wat geneig is tot verlengde konvulsies, is daar wel die opsie van tuisbehandeling met medikasie, alhoewel dit nie in Suid Afrika in 'n gerieflike vorm (neussproei of rektale gel) soos oorsee beskikbaar is nie. Alhoewel elke ouer sekerlik so vroeg moontlik na die aankoms van 'n koors koorsmedisyne sal gee, is daar nie op papier bewyse dat dit noodwendig die aankoms van 'n koorskonvulsie verhoed nie. Kan chroniese epilepsie-behandeling koorskonvulsies voorkom? Moontlik, maar... Huidige aanbevelings is steeds dat daaglikse behandeling met anti-epileptiese medisyne nie die potensiële newe-effekte werd is vir kinders met herhalende eenvoudige koorskonvulsies nie. Kinders met komplekse koorskonvulsies mag moontlik meer voordeel trek uit voorkomende anti-epileptiese behandeling, maar elke geval word op 'n individuele basis beoordeel, veral met inligting ingewin met die uitvoer van bogenoemde spesiale ondersoeke.

    The
    Coal
    Face

    Useful stuff from ground zero.

    Categories

    All
    Babies
    Basics
    Brain
    Breastfeeding
    Chest
    Development
    Follow Up Appointments
    Food
    Formula Feeding
    Head
    Immunization
    Infections
    In-hospital Medicine
    Iron Deficiency
    Paediatrician Frustration
    Pregnant Moms
    Sleep
    Stuff For Little Girls
    Tummy
    When To Consult A Doctor

Proudly powered by Weebly
  • Home
  • Dashboard
  • Emergency
  • Virtual consultations via Medici